Jou Visvang Paradys

Welkom by TAGO

 


TAGO is teenaan die Wilgerrivier wat inloop in die Vaaldam, ongeveer 45km vanaf Deneysville en 35km vanaf Oranjeville geleë.

Met meer as 4km se waterfront is dit ‘n visvangparadys vir alle hengelaars, hengel klubs en natuurliefhebbers.

TAGO is in 1998 gestig deur Zorro Mitrovic wat dit vernoem het na sy dogter Tanja (TA) en sy seun Goran (GO) .. dus TAGO.

As u passievol is oor visvang en die totale rustigheid wil ervaar wat slegs die ongerepte natuur kan meebring, is TAGO die plek vir jou.

Daar is ablusieblokke met toilet- en stortgeriewe, asook ‘n winkel wat visvang- en ander produkte verkoop.

 

  • Skoon ablusie blokke vir mans vrouens en kinders
     
    Kafee met hout, ys, koeldrank, roomys, chips, visvang benodighede soos hoekies, dippies ens
     
    4km waterfront vir kompetisie, dag besoekers of naweek kampers en visvangers.

 

Die onstaan van Tago

 


Dit was in die jaar 1983 wat die Vrystaat onder erge droogte gebuk gegaan het. Meeste boorgate het droog geloop en so ook die boorgat van Oom Boet Pretorius van die plaas Zoetvlei langs die Vaaldam.
Vriende het hom vertel van ‘n man met die naam Zorro Mitrovic wat al ‘n hele paar boere in die omgewing gehelp het om water te kry.

Oom Boet het niks te verloor gehad nie, hy het al menigte gate geboor sonder sukses.

Die dag wat hierdie besonderse mense mekaar ontmoet het was ook die begin van ‘n lewenslange vriendskap.

Zorro het twee plekke geïdentifiseer en die een plek was ryk aan water.

Aangesien hy geen geld gevra het nie en ook geen geld wou neem nie het Oom Boet vir hom gesê dat hy enige tyd die plaas kan besoek om vis te vang.

Hul vriendskap het so gegroei, maand na maand, jaar na jaar.
Een dag vra Oom Boet vir Zorro wat hy sal doen as hierdie gedeelte van die plaas aan hom behoort het.
Zorro antwoord hom, “Ek sal hierdie visvang-paradys aan die publiek oopmaak. Ek wens elke persoon kan soveel vrede en rustigheid hier ervaar soos wat ek het.”

Op sy ou dag het Oom Boet besluit om die plaas te verkoop en met hierdie antwoord was hy so tevrede dat hy, met ‘n blye hart, die plaas aan Zorro verkoop het.

En so, in die jaar 1998 het Zorro die plek van sy drome oor gekoop.
Hy het die plek vernoem na sy twee kinders, Tanja en Goran. Tago.

Met harde werk en liefde het hy die plek oop gemaak vir die publiek.
So het Zorro hegte vriendskappe gesmee met vele welwillende visvangers. Mense wat weer en weer terugkeer om die vrede en rustigheid van die natuur te ervaar.

Die begraafplaas wat Zorro teerhartig versorg het is die rusplek van Oom Boet se voorgeslagte en ‘n bewys van ‘n ryk geskiedenis, nog voor die Vaaldam ‘n dam was.

Zorro het sy rusplek self uitgekies.
Hy is begrawe op die plek wat hy die liefste gehad het.
Tago.

En nou…
Zorro se kinders het met ywerige harte Tago oorgevat met die begeerte om hul pa se droom te laat voortleef, en daarop te bou.
‘n Visvang-paradys vir natuurliefhebbers.

Ter nagedagtenis aan Zoran “Zorro” Mitrovic:  6 September 1952 – 8 Augustus 2017

 

 Let wel

 

Aankoms in die middag na 16:00pm betaal slegs nag tarief
Vertrek in die oggend voor 10:00am betaal geen dagtarief
Geen addisionele tarief vir tente – koste per persoon per dag/nag

Geen staanplekke is afgemerk of word bespreek nie – arriveer en betaal by die kafee per persoon en staan waar verkies

Geen staanplekke met kragpunte, wel ablusie geriewe met warm water, mag krag opwerkkers bring

Geen oop vure nie – boete van R5000. Indien u wil braai brings asb eie braaier

 

Hektye

 

06:00am Oop
19:00pm Toe
Geen terugbetaling van hekgelde.

 

Watergebruik

 

Geen bote en jetski’s – slegs hengel aktiwiteite.

Kanoes, aasbote en klein bote met maksimum 6hp enjins om lyne in te neem.

Die gebruik van reddingsbaadjies is verpligtend. Roeispane met Kanoes of klein bote is verpligtend

Geen persone mag met waders op bote en kanoes gaan nie.

Watergebruik op eie risiko. Basiese waterveiligheidsreels te alle tye van toepassing.

Ongeveer 4km hengelbare oewer beskikbaar – onderhewig aan wisselende watervlakke van die Vaaldam.

 

Tent- en karavaanstaanplekke langs die oewer:

 

Geen kragpunte langs die oewer nie
Geen staanplekke is afgemerk of word bespreek nie
Geen besprekings of depositos vir staanplek teen die oewer nie – betaal by kafee met aankoms, per persoon
Klein troeteldiere word langs die oewer toegelaat, maar nie by die winkel of ablusies nie

 

Oewer Kafee / Winkel

 

Winkel op die perseel met hout, ys, roomys, koeldranke, lekkers en visvang benodighede beskikbaar

Net ‘n klein verskeidenheid hengelprodukte beskikbaar. Tago mieliebom beskikbaar by oewer kafee.

 

TAGO Uitleg:

 

Karp = Dag besoekers en kampeerders

Geelvis = Dag besoekers en kampeerders en Kompetisie 

Bass = Dag besoekers en kampeerders en Kompetisie